Steenbokkie is net ‘n Shosholoza Meyl ver

Treinry was nog altyd vir my baie lekker en ons ry gereeld. Metrorail na Simonstad met ‘n 1-Day Tourist Pass. Wanneer ons bederf wil word, die luukse Premier Classe. Ons hou egter ook van die Shosholoza Meyl, ‘n nuwer inkarnasie van die ou Trans-Karroo.

IMG_1445.JPG

Min het verander op die trein. Lekker ruim kompartemente, elke wa het twee toilette en ook ‘n aparte stort. Daar is ‘n eetwa waar jy heerlike etes kan bestel en ons verkies die baie gesonde Sirloin wat goeie waarde bied teen slegs R95.

image004

Sirloin

 

Ons is op ‘n Woensdag weg uit Kaapstad, nadat die wêreld se mees luukse trein, die befaamde Bloutrein, hoflik genoeg was om plek te maak vir ons ou staatmaker.

 

 

Kort nadat dit vertrek het, het Shosholoza Meyl langs Perron 24 kom stilhou sodat bagasie ingelaai kon word en passasiers kon inklim. Dit was bewolk en dynserig toe ons vetrek het en die rit het ons geneem al langs die N1-hoofweg op, waar dit net anderkant Monte Vistastasie weggedraai het na Bellville, die eerste groot stop. Daar het verskeie passasiers opgeklim en ons is gou weer voort na Hugenoot-stasie by die Paarl, toe Dal Josafat en Wellington. Buite Wellingston het ons die eerste van ‘n reeks Britse forte gesien, wat dateer uit die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902.
Pragtige groen wingerde, goue koringlande en blou berge versluierd in gryse mistigheid het kunstig ‘n landskap geverf. Gouda se woud van windlaaiers het beïndruk maar dit het begein reën en fotografie was nogal ‘n uitdaging omdat ek nie graag die Canon wou laat nat word nie. Boesmansrots, dan Nieuwekloofpas (ek sien padkentekens spel dit verkeerd) waarna ons die Wamakersvallei betree het by Tulbachweg. Al klikkende en klakkende het die trein sagweg gewieg en gou het ons verby Wolseley gesnel, waar daar nog ‘n fort te sien was. Ons was nou in die Breëreviervallei en oppad na Worcester, waar my Pa en broer my op die stasie kom groet het. Oppad soontoe, by Sedgwick’s Distillery & Vintners verby daar by Goudini; dit is waar die Old Brown Sherry en verskeie brandewyne vandaan kom, onder andere Oloff Bergh.

Met ons vertrek uit Worcester is ons gou verby die wêreld se grootse brandewyndistilleerdery onder een dak, reg langs die treinspoor. Dan die wêreldbekroonde olyfplaas, wat weer plek gemaak het vir die De Wet-vallei waar ons die eerste prieële met tafeldruiwe gesien het. Deur die kloof na Sandhills en toe is ons in die Hexvallei. Dit is hier waar ek meer as dertig jaar gelede die liefde van my lewe kom haal het as bruid op die plaas Mon Desir (wat ‘n gepaste naam!) by Hexrivierstasie. Sy neem toe die ou groot plaashuis af en ook die Shosholoza Meyl wat vanaf Johannesburg na Kaapstad onderweg was. Twee susterstrein glip by mekaar verby en ons kronkel kort daarna regs, om die eerste van ‘n reeks tonnels in te gaan. Die Hexrivierpas bied verskeie tonnels waarvan die langste ongeveer 14 km is.

Ons trein verskyn uit die tonnel soos ‘n slang uit ‘n gat en begroet die Karoo. Daar boer die mense met son en die sonpanele staan aangetree soos soldate. Of is dit ‘n energieboord? Kort daarna trek ons statig in Touwsrivier in, om hulde te betoon aan die historiese stasiegebou wat deur ‘n brand verwoes is.

Daar heers ‘n opgewekte atmosfeer op die trein, mense gesels, leer mekaar ken. Daarna volg Matjiesfontein en die historiese dorpie lyk pragtig in die laatmiddagson. Ek is te ver agter in die trein om foto’s te neem en die trein staan net twee minute. Volgende keer, dalk.

Oppad na Laingsburg verwonder ons onsself aan die mees ongelooflike rotsformasies en wens so daar was ‘n geoloog aan boord om meer te vertel van die eienaardige, pragtige landskappe wat die oog begroet. Na Laingsburg, Prins Albertweg, Leeu-Gamka, is daar nog drie forte maar ek kan nie foto’s neem nie omdat die kamera se battery pap is. Met die terugkeer Maandag, dalk. Ons gaan verby plase onder besproeïng, diep waterkuile met spaansriet, olyfboorde, landerye maar ook dorre streke in die Moordenaarskaroo.

Die son van die Kamdeboo sak weg agter die berge in die verte en kort daarna kom Shosholoza Meyl tot stilstand in Beaufort-Wes. Ons treinreis is vir eers voltrek en ons gaan deur die stasiegebou waar ons kaartjies ondersoek word. Dan ontmoet ons vir Dries van Steenbokkie Privaat Natuurreservaat. Hy gesels gemoedelik namate ons deur die dorop ry, verby ‘n imposante historiese kerk. Iewers sal ek ‘n foto moet kom oes.

Die Ford Ranger 2.2 se hoofligte boor deur die nagdonker en ons draai regs, by die netjiese ingang na Steenbokkie. Dries verduidelik dat dit eers ‘n jagplaas was, maar nou bedryf word as ‘n natuurreservaat. Meer as agtduisend hektaar, met verskeie soorte groot- en kleinwild. Elande, takbokke, drie soorte springbokkies, duikertjies, steenbokkies, wildebesste, kameelperd….die lys is eindeloos. Dit is nie ‘n spa of ‘n oord nie maar ‘n werkende plaas met diere op die werf.

Ons hou stil op die plaaswerf en Dries neem ons na ons baie netjiese, ruim akkommodasie. Dit is skoon en baie goed toegerus. Satelliettelevisie, Dstv maar ons is nie TV-kykers nie. Dit is egter noodsaaklik vir so baie gaste wat Sewende Laan graag saamneem plaas toe. Lugversorging, muskietmatjies in elke kamer, alle geriewe soos ‘n yskas, elktriese stoof, mikrogolfoond, ketel, broodrooster. Daar is moerkoffie en filterkoffie, jy verstaan?

Die woonstel waarin ons die volgende drie nagte gaan slaap, is ‘n tweeslaapkamer met ‘n lekker groot stort en alles wat nodig is. Ons hoor plaasdiere, soos skape, poue, ganse, eende en kan nie wag dat Donderdag aanbreek nie. Ons nagrus is sag en diep en nie eens die geroep van ‘n pou af en toe maak ‘n mens wakker nie.

Donderdagoggend is ons veld toe nadat ons die pragtige plaaswerf en opstal verken het. Daar is ‘n aantal gastekamers, vir elke behoefte en gesinsgrootte. Elkeen is uiters smaakvol ingerig en lugversorging is standaard. Dan gaan ons veld toe, waar ons troppe takbokke en springbokke teëkom. Op die platorand vind ons ‘n houtkruis, net soos by die kantoordeur. Om in die Karooveld te stap, stilte te ervaar, troppe wil van ver af te aanskou, dit is iets buitengewoon. Geen mens sal die gevoel verstaan alvorens jy dit nooit self gedoen het nie. In my kinderjare reeds het ek soveel aangename ervaringe gehad in die veld weerskante van Beaufort-Wes, en dit is juis hoekom ek hierdie reis saam met my vrou onderneem het. Ons wou kom kyk hoe Steenbokkie lyk, hoe dit is vir die stedeling om per trein hierheen te reis maar ook wat hierdie lieflike natuurreservaat bied aan die motoris.

Ek sal mettertyd meer byvoeg in volgende aflewerings, maar ek laat die leser met die gedagte om nie Steenbokkie oor te slaan wanneer jy weer Kaap of binneland toe reis nie. Kom staan ‘n paar dae hier oor, rus goed uit in goed ingerigte gastekamers en kothuise. Reisigers wat wil kampeer, gaan aangenaam verras wees deur die lowergroen grasperke, skaduryke bome en baie netjiese ablusiegeriewe. Ek vertel u later meer.

Shosholoza!

Advertisements

9 thoughts on “Steenbokkie is net ‘n Shosholoza Meyl ver

  1. Dankie…ek het lekker aan die artikel gelees! 🙂

    Liked by 1 person

  2. Dankie vir die reblog, daar kom nog baie maar hou hierdie een dop vir foto’s wat bygesit gaan word sodra daar beter internet is.

    Liked by 1 person

  3. Ursula gaan glo daar plek bespreek. Om jou terug te kry oor sy moes vloere was terwyl jy in Melbourne was.

    Liked by 1 person

  4. IS DIT WAAR SY WAS??? EK DOG SY HET VIR NIKODEMUS LOOP SOEK!? 🙂

    Liked by 1 person

  5. In al die treine wat ek in Europa gery het kry mens so n inligtingsblaadjie wat alles vertel oor wat jy deur die venster kan sien. Hulle noem dit n ‘reisebegleiter’ moet jy nie soiets begin vir die plaaslike langafstandtreine nie?

    Liked by 1 person

  6. Dankie, ek het dit ook voorgestel en dit is aanvaar. Treine gaan wifi kry met elektroniese gids. Dis nog in konsepstadium. My idee is om dit aan GPS te koppel. Ek wil graag sien dat treindrywer self inligting gee van tyd tot tyd. Veral jonger mense lees nie gedrukte materiaal nie.

    Like

  7. Neem in ag dat ek net ‘n reisblogger is en nie vir hulle werk nie, dus nie namens hulle praat nie. Ek doen egter baie om spoortoerisme te bevorder.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s