Sifkas – Slim Vang Sy Baas! 

Die soort dorpie waar ‘n pa sy agtjarige telg met ‘n roeispaan oor die rugbyveld jaag. Knapie luister mos nie as Pa baie duidelike instruksie van die kantlyn af skree nie.

Die soort dorpie waar ‘n vrou ‘n haai op haar kombuiskas uitgebroei het.

Of waar tienerseuns na skool met bakkies roei tot agter die eiland, vyf myl ver. Dan terug, die skuitjies tot by die gunnels gevang vol vis. So tussen die witdoodshaaie deur.

Dis op so ‘n dorpie dat goed op ander maniere gebeur. Neem nou maar vir Hennie Putter. Sestien jaar oud, staan ‘n deur vol, weeg tweehonderd en vyftig pond. Sonder ‘n ons vet aan hom. Tog is hy ‘n aangename mens, nie vol klonte nie, tensy jyself vol draadwerk is.

Hy sit met sy rug teen die hokkie se muur, kyk na die dansers wat gly oor die blinkgladde sement. John Fogerty tokkel sy swart Gibson en vra betekenisvol “have you ever seen the rain on a cloudless day?” Philly dans, Djyps en DjyDjy maak beurte en iemand het ‘n liter koukbottel vol slimsap met ‘n tiet. Dis waarmee Philly hom stilgemaak het toe hy tussen die dansende skare op sy bas gaan sit en skree het. Met net ‘n (hand)doek aan. Dis oujaarsaand en almal gooi los.

Dan kom daar ‘n Vaalpens met ‘n scrambler tussen die mense in net toe CCR se reëntjie uit ‘n wolkelose hemel val. Nou is die sement glad en die mouterbaaik gly.

Hennie Putter was besig om met die vryburger Oom Tas te gesels oor ‘n bietjie groen twak. Vreedsaam. Tog is hy bang een kry seer, toe staan hy maar op en gaan dra die scrambler met ridder en al van die dansblad af.

Die eerste tien treë is maklik. Toe raak die vraggie swaar, hy verloor sy greep en laat val. Die mouterbaaik se agterwiel skop-skop in die stof.

Net toe kom die Sifkas om die draai aangery. Hulle sien wat gebeur maar verstaan verkeerd. Nou stop die Sifkas en die sersant en konstabel klim uit, probeer om Hennie Putter agterin weg te sit. Hy speel saam. Hulle het hom aan weerskante beet, elken stu hom vorentoe aan ‘n vlerkie. Die Sifkas se deur staan oop, hulle kry ritme, tel spoed op.

By die deur steek Hennie Putter skielik vas, gebruik die momentum om Sersant & Konstabel in die laairuim in te skiet. Dan slaan hy die deur toe, grendel dit.

Vrede op oujaarsaand. Reg en geregtigheid veilig uit almal se pad. Hennie Putter sit teen die hok se muur. Bok speel nog CCR, Smokie, die sementblad is glad.

Mense dans.

Advertisements

2 thoughts on “Sifkas – Slim Vang Sy Baas! 

  1. Ek herken hom, daai dorpie. En daai sifkas.

    Like

  2. Ek is tog te bly – ek hou maar net name en hofsake weg van mekaar. Wie maak vir Dansbaai lekker?

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s