Waar Die Treinspoor Ophou

As die treinspore in die sand verdwyn, weet jy dat jy aangekom het op Simonstad!

Soveel maal in die verlede, oor die afgelope 42 jaar, het ons as gesin hierdie lekker treinrit onderneem. Dis toe ek nog aan huis van my ouers was. Daarna, sowat dertig jaar gelede, het ek en my vroutjie vriende oortuig om dit saam met ons te doen. Vele treinritte na Simonstad sou volg. Elke rit bly vars in my geheue. Daarom dat ek dink dat geen mensdie moet misloop nie.

Binnelanders kan gerus die tipe ding aandurf wat ons weer op Sondag, 16 Oktober 2016 gedoen het. Sommer vroeg die oggend was ons op die stasie en het ons die Day Pass gaan optel. Dagpas? Ons dra pas want ons reis eersteklas! Met dié slim kaartjie ry jy heeldag lank, soveel jy wil, waar jy wil, wanneer jy wil op die Simonstadlyn. En die lae prys van R36 (Oktober 2016) bly immergroen. Jy betaal geen bloue duit meer nie.

So klim ons toe mos af by Muizenberg. Of Amuzingberg soos ek my geliefde

ou kusdorpie graag noem. Daar is te veel dinge om te doen, ons gaan weer

hieroor gesels. Ek sal weer ‘n draai gaan maak en die drade daar optel.

My jy kan gaan leer branderski, of vis eet, stap op die myle lange

strande af, daar is die Zandvlei waar jy kan gaan braai vir die

dag….te veel om te noem.

Maak soos ons en raak voetvaardig met die netjies gepleisterde

betonpaadjie na St James. Dis so ‘n outydse myl oftwel 1,6 km ver en

selfs geskik vir ouer mense en ander, soos ek, met beperkte mobiliteit.

As dit nader is, of verder, gaan dit jou nie pla nie.

By St James kan jyvir jou ‘n kleurvolle kleedkamertjie huur en gaan baai in die lekkergroot getypoel. Wanneer die Noorkaper-walvisse aandoen, is dit maklik om hulle vanaf die rotse waar te neem, veral regoor die stasie. Hierdie

kolosse is baie nuuskierig en hou graag dop wat op land aangaan. Die

rotse aan die Kalkbaai-kant van St James is redelik regaf en die see

diep, derhalwe swem die walvisse na aan die kus. Noorkapers kry hulle

naam van die Noorse Kaap en is nie “noordkappers” soos wat mense op RSG

hulle noem nie. Dag ek seg maar net.

Vanaf St James het ons die trein geneem tot op Simonstad, maar langs pad

baie foto’s geneem want jy sien soms net die see as jy afkyk. Min plekke

op aarde bied jou ‘n treinrit wat soms soos ‘n bootvaart voel. By

Simonstad raak die spore weg in die sand en jy gaan later weer

daarvandaan terug Kaapstad toe, maar verder is jy aangewese op ‘n lekker

stap. Neem gerus die motor wat HGTS Tours so gerieflik op die stasie

aanbied. John het ons geneem na die Quayside Sentrum, waar ons middagete

by Harbourview Restaurant genuttig het.

Toe eet hierdie Bolander mos iets anders as waterblommetjiebredie! Eers

het ons ‘n Griekse slaai gedeel met olywe wat so lekker was dat my vrou

glad daarvan geëet het! En Deense Fetakaas daarby, lekker sag en

romerig. Toe kom die regte kos!

Vir mevroutjie was daar net mooi presies die heel beste stukkie stokvis

met calamari. Nou kyk, daardie stokvissie is agterna oor en oor

getakseer en so het hy moes kompeteer met Salty Sea Dog naasaan se

uitstekende stokvis, of met Lusitiania in Waterkantstraat (Kaapstad se

middestad), of met die uithaler-stokvis van Manny De Gouveia se Da Gama

Fisheries in Van Rieebeckstraat, Kuilsrivier en selfs met die befaamde

twee viswinkels op Worcester, wat landwyd bekends is: Heuwel Vissery en

Lamouette. Na meer as ‘n uur het ons besluit dat Harbourview tog die

wenner is; die vis is net meer perfek as die ander se perfek. Ag nee,

man, nou sit ek in Seepunt en skryf en Simonstad is aan die ander kant

van ons geankerde eiland!

Bolander soos ek, Blootvoet daarby, ken toe mos nie vir bok se kind nie.

Van sien, ja, ook van sien hoe die geelkatte van die wildtuin hulle

plattrek. Maar toe is dit my beurt. Nee, daar was nie leeus nie, maar

genoeg vleis om ‘n trop gelukkig te hou. My baard is af maar ek speel

toe maar maanhaar en eet al te lekker aan die wonderlikste stukkie

rooibok daar. En toe wei ‘n koedoe homself onder my mes in. Vlakvark het

kom kyk en ook nie oorleef nie. Hulle is binnetoe. En baie lekker

daarby, veral die rooibokkie. Murgsag, man, maar ek beveel die hele

drie aan – Three Game Medallion. Amper by Kaappunt, kan jy dit glo?!

Vir die effense Ingilse kultuurtjie durf my vrouwtjie toe die Apple

Crumble aan en dit was heerlik. Maar tradisievaste Afrikanergelowiges

hou mos by die bekende; ons eer nie vreemde afgode nie en dus het ek

oordadiglik eer betoon aan ‘n lekker skep Malvapoeding. Net soos Ma se

poering het dit gekom met twee bolle roomys daarby. Maar, Boera, was dit

nou vir jou agter die oor!

Geurige koffie, lekker milde Arabica smaak dit my, het die dag se

eetverrigtinge formeel afgesluit.

En dis hoe ons Wêreldvoedseldag op Simonstad gaan vier het. Hoe ry doe

trein, hoe ry die trein, Simonstad se trein! (Askies, Kimberly.)

Toe nou, moenie in Kaapstad kom rondflenter oor Desember en my verkla

oor julle nie weet hoe om die dag om te kry nie. As ek nou nog so ‘n

draai of twee gaan ry het, sal ek beter idees gee van alles tussenin

Muizenberg en Vishoek. Daar is nog ‘n wêreld om te gaan ontdek!

Metrorail maak dit maklik!

Advertisements

2 thoughts on “Waar Die Treinspoor Ophou

  1. Lekker! Ja, ons binnelanders ken nie eens ons eie land in totaal nie.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s